Esther se Getuienis by Esther du Toit - HTML preview

PLEASE NOTE: This is an HTML preview only and some elements such as links or page numbers may be incorrect.
Download the book in PDF, ePub, Kindle for a complete version.

28 Desember 1986: Hatfield kerk.

Jan de Wet het daardie aand gepreek en sy getuienis gegee hoe hy tot wedergeboorte gekom het. Toe hy vra wie wil vanaand seker maak dat hy of sy gered is, het ek vorentoe gestap en ‘n volle oorgawe gemaak. My dogter ook. Sy het ook haar Hemelse taal ontvang.

My lewe was nooit weer dieselfde nie. Ek was nie net warm nie, maar aan die brand vir JESUS. Ek kon nie ophou Bybel lees nie, en het ‘n vreugde gehad soos nog nooit in my lewe nie. Wanneer daar ‘n byeenkoms was, het ek dit bygewoon.

Drie maande later ontvang ek my Hemelse taal. Net 3 woordjies “ Kie barie shando.”

Wanneer ek Bybel lees, kry ek skrifte wat my laat besef ek moet gedoop word. Nie een skrif praat van ‘n baba doop nie, maar dat jy gedoop moet word as ‘n grootmens.

Maak dissipels van alle nasies en doop hulle. Glo en laat jou doop. Mark 16:16 “Bekeer jou en laat jou doop.” Handelinge 2:37 “Doop is ‘n begrafnis”. Rom 6: 3-4 “Dis nie vir ‘n baba nie”.

Na my doop het ek ‘n volle hemelse taal ontvang, en visioene begin sien.

Groot wonderwerk uit die Hemel (Kitaar)

‘n Nuwe lewe het vir my oop gegaan en ek het ook in die gawes van die Heilige Gees beweeg. Dit was die wonderlikste tyd in my lewe. Ek het die krag van die Heilige Gees ervaar en wanneer ek bid, verhoor VADER my. Later het ek mense bedien en getuig van al die wonderwerke wat JESUS gedoen het.

By ‘n groep het ‘n jong man by my kom kniel en gesê : “ Die HERE wil tannie gebruik om musiek instrument te speel”. Maande later kom my buurvroutjie na my met ‘n kitaar en sê sy het langs my by die gereelde samekoms van gelowiges gesit en duidelik gehoor die HERE sê sy moet my leer kitaar speel. Ek sê vir haar : “ ‘n Kitaar? Dis vir jong outjies!”

Sy sê : “VADER het gesê jy gaan kitaar speel”. Sy was ‘n musiek onderwyseres. Sy wys my drie drukke en die lied O Heer my GOD.

Ek kry dit nie reg nie en toe sy loop, sit ek die kitaar op die spaarkamer bed neer en sê : “JESUS, ek dink nie dis vir my nie. Ek kry dit nie reg om te speel nie. Die HERE herinner my aan die jong man se woorde. Maar ek dink hoekom ‘n kitaar?

Woensdag oggend is ons weeklikse samekoms en ek gaan sit in my stoel by die sitkamer venster om te bid voor ek ry. Terwyl ek so sit, hoor ek soos ‘n hoorbare stem wat sê : “Gaan haal die kitaar!” Ek is so verbaas want ek is alleen in die huis. Ek hoor weer : “ Gaan haal die kitaar!” Ek stap na die kamer en toe ek aan die kitaar raak is die krag van die Heilige Gees op my. Ek gaan sit op my stoel en die volgende oomblik speel ek : “Let THERE be glory and honor to JESUS.” Asof ek al jare speel en nie die drie drukke wat die buurvrou my geleer het nie, maar ander drukke. Toe ek klaar is, begin ek lag en toe huil. Ek het toe besef wat het nou gebeur. Op daardie oomblik lui my huisfoon. Toe ek antwoord is dit ‘n broer in JESUS wat sê: “Ek sit hier in my kantoor en die Heilige Gees sê vir my ek moet jou gou bel. “Jy het iets om vir my te vertel.” Ek lag en huil en sê: “My broer, ek het so pas kitaar gespeel, maar dit was nie ek nie.” Ek vertel hom alles. Hy sê: “Prys die HERE, van nou af sal jy ‘n kitaar kan speel.”

Ek ry na ons weeklikse samekoms van gelowiges toe en getuig teenoor almal wat het by die huis gebeur. Die gasvrou staan op en gaan haal haar dogter se kitaar en sê: “Nou speel vir ons dat ons kan sing!” Ek keer en sê: “Nee wag” maar sy sê as dit by die huis gebeur het, gaan dit ook nou gebeur. Ek begin speel die een na die ander lied sonder om te kyk waar ek druk en almal sing saam. Die krag van GOD is op my en my knieë klap teen mekaar asof hulle hande klap. Al die Eer aan ons GOD en VADER vir ‘n wonderwerk uit die HEMEL. Daarna het ek elke Woensdag die sang gelei met kitaar. Dis die eerste GROOTSTE wonderwerk wat in my lewe gebeur het. Later jare het ek my eie groep gelowiges wat byeenkom in my huis gehad.

My eerste groot wonderwerk in my liggaam.

My hande was altwee vol swere. Die sig het uit hulle geloop en dit was baie erg pynlik en ongemaklik. Ek moes gedurig salf aansmeer en verbande omdraai en met rubber handskoene werk.

Op daardie tydstip het ek bedags my kleindogter opgepas. Dit was baie moeilik. ‘n Suster in JESUS getuig toe hoe sy nie kon loop nie en sy was baie siek. Iemand het vir haar ‘n gebed gebring om te bid. Na sy die gebed gebid het kon sy weer loop.

Ek het die gebed gelees en besluit ek gaan dit ook in geloof bid. Die aand 10 uur het ek voor VADER gesit en die gebed gebid. Ek het gaan slaap en in die nag wakker geword. Ek het op my rug gelê, maar kon myself in die gees sien waar ek voor die troon op my knieë staan in aanbidding. Ek het GOD nog nooit so aanbid nie. “Heilig, heilig, heilig is U o my GOD en VADER. Ek aanbid U”. Ek skakel die lig aan en sien dis net na 12 in die nag. Die volgende oomblik is ek bewus van altwee my hande, volkome genees. Daar was nie eens ‘n merkie of ‘n rofie nie. My hande was pragtig glad.

Prys die HERE JESUS. Hallelujah!